2 Corinthians 11:1-33

1 AG, as julle my net ’n bietjie in my dwaasheid wou verdra! Verdra my tog maar!

2 Want ek is jaloers oor julle met ’n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ’n reine maagd aan Christus voor te stel.

3 Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus.

4 Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval.

5 Want ek reken dat ek niks agterstaan by dié uitnemende apostels nie.

6 En al is ek ook onbedrewe in woord, dan tog nie in kennis nie; maar ons het ten volle in alle opsigte openbaar geword by julle.

7 Of het ek sonde gedoen deur my te verneder sodat julle verhoog kan word, omdat ek die evangelie van God kosteloos aan julle verkondig het?

8 Ander gemeentes het ek beroof deur vergoeding te neem om julle te bedien; en toe ek by julle teenwoordig was en gebrek gehad het, het ek niemand lastig geval nie.

9 Want in my gebrek het die broeders voorsien wat van Macedónië gekom het. En ek het my in alles in ag geneem om julle nie te beswaar nie, en ek sal my in ag neem.

10 So seker as die waarheid van Christus in my is, sal hierdie roem in die streke van Acháje my nie ontneem word nie.

11 Waarom? Omdat ek julle nie liefhet nie? God weet dit.

12 Maar wat ek doen, sal ek nog doen om die aanleiding af te sny vir die wat ’n aanleiding wil hê, sodat hulle in die saak waar hulle op roem, net soos ons bevind mag word.

13 Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus.

14 En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig.

15 Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.

16 WEER sê ek dat niemand moet dink dat ek dwaas is nie; of anders, neem my maar aan as ’n dwaas, sodat ek ook ’n bietjie kan roem.

17 Wat ek spreek, sê ek nie vanweë die Here nie, maar as in dwaasheid, in hierdie vertroue dat ek mag roem.

18 Terwyl baie na die vlees roem, sal ek ook roem.

19 Want julle verdra graag die dwase, omdat julle so verstandig is!

20 Julle verdra dit mos as iemand knegte van julle maak, as iemand julle opeet, as iemand julle beetneem, as iemand hom aanstel, as iemand julle in die gesig slaan.

21 Tot my skande moet ek erken dat ons daarvoor te swak was; maar as iemand dit aandurf - ek spreek in dwaasheid - ek durf ook.

22 Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Is ‘ hulle die nakomelinge van Abraham? Ek ook.

23 Is hulle dienaars van Christus? - ek praat in uitsinnigheid - ek nog meer: in arbeid oorvloediger, in slae bo die maat, in gevangenskappe baie meer, in doodsgevare dikwels.

24 Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na.

25 Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ’n nag en ’n dag het ek op die diepwater deurgebring -

26 dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders;

27 in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid.

28 Behalwe dit alles my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes.

29 Wie is swak en ek is nie swak nie? Aan wie word ’n struikelblok in die weg gelê en ek is nie aan die brand nie?

30 As daar geroem moet word, sal ek in my swakhede roem.

31 Die God en Vader van onse Here Jesus Christus, geseënd tot in ewigheid, weet dat ek nie lieg nie.

32 In Damaskus het die goewerneur van koning Arétas die stad van die Damaskéners laat bewaak om my te vang;

33 en ek is in ’n mandjie deur ’n venster in die muur neergelaat en het aan sy hande ontkom.

Afrikaanse Ou Vertaling

Galatians 3:1-29

1 o, ONVERSTANDIGE Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig?

2 Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?

3 Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?

4 Het julle verniet so baie gely? As dit maar verniet was!

5 Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?

6 Net soos Abraham in God geglo het, en dit is hom tot geregtigheid gereken.

7 Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham.

8 En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word.

9 Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham.

10 Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.

11 En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe.

12 Maar die wet is nie uit die geloof nie, maar die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe.

13 Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ’n vloek te word - want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ’n hout hang -

14 sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang.

15 Broeders, ek spreek menslikerwys: selfs ’n mens se testament wat bekragtig is, maak niemand tot niet of voeg daaraan toe nie.

16 Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.

17 Maar ek sê dít: die wet wat vierhonderd-en-dertig jaar later gekom het, maak die verbond wat deur God in Christus vantevore bekragtig is, nie kragteloos om die belofte tot niet te maak nie.

18 Want as die erfenis uit die wet is dan is dit nie meer uit die belofte nie. Maar God het dit aan Abraham deur ’n belofte genadiglik geskenk.

19 Wat beteken die wet dan? Dit is bygevoeg weens die oortredinge, totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom; en dit is deur engele beskik deur tussenkoms van ’n middelaar.

20 En die middelaar is nie net vir een nie; maar God is een.

21 Is die wet dan teen die beloftes van God? Nee, stellig nie! Want as daar ’n wet gegee was wat krag het om lewend te maak, dan sou die geregtigheid werklik uit die wet wees.

22 Maar die Skrif het alles ingesluit onder die sonde, sodat die belofte uit die geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee kon word.

23 Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word.

24 Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.

25 Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ’n tugmeester nie.

26 Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;

27 want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.

28 Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.

29 En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.

Afrikaanse Ou Vertaling