BESWAARSKRIF
Kragtens die Woorde van die Here Jesus, ons Verlosser, soos aangeteken in die Evangelie van Matthéüs Hoofstuk 5 vanaf vers 33 tot 37 en kragtens die weergawe van Sy dissipel ( en broer ? ) Jakobus, soos aangeteken in sy Algemene Brief Hoofstuk 5 vers 12, wat weens die kanonieke waarde daarvan, deel uitmaak van die Heilige Skrifte wat as die Bybel en as die Woord van God bekend staan volgens Artikels 2 tot 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis, onvoorwaardelik geglo word volgens die antwoord op Vraag 21 van die Heidelbergse Kategismus van 1563, en waaruit ons die wil van God leer ken soos uitgedruk ( Hoofstuk 1.17 ) deur/in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel deur die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke van die Verenigde Nederlande wat in die jare 1618 tot 1619 in Dordrecht gehou is, waarop die Nederduitse Gereformeerde Kerk gegrond staan, aldus Artikel 1 van die Kerkorde, November 1998, en kragtens my roeping as gelowige soos omskryf in Artikel 59.2 van die Kerkorde, November 1998, maak ek, Dirk Muller , wat op 8 Februarie 1969 my geloof voor die Moedergemeente van Nelspruit bely het, beswaar teen die volgende gebruike in die kerk wat in stryd is met die gesonde leer van die Woord van God :
  1. Die aflegging/maak van beloftes/geloftes/ede/onderneming aan die Here met die aflegging van ons geloofsbelydenis, wat niemand van ons uit ons eie krag kan nakom nie ( vraag 7, 8 en 9 van die Heidelbergse Kategismus ).
  2. Die aflegging/maak van beloftes/geloftes/ede aan die Here deur ouers tydens die bedienning van die doop van kinders.
  3. Die aflegging/maak van beloftes/geloftes/ede aan die Here deur paartjies wat in die huwelik tree.
  4. Die aflegging/maak van beloftes/geloftes/ede aan die Here deur Ouderlinge en Diakens by bevestiging in hul amp.
  5. Die aflegging/maak van 'n belofte/gelofte/eed aan die Here deur amptenare van die regering ( bv. die inhuldiging van die Staatspresident en/of ander amptenare ) binne en deur die Nederduits gereformeerde Kerk, wat nie net misbruik van die kerk deur die wêreld is nie, maar gewoonlik ook neerkom op die ydelike gebruik van die Naam van die HERE deur ongelowiges, heidene en self erkende ateïste is.
  6. Die aflegging of die maak van enige ander vorm van eed/gelofte/belofte/onderneming op grond van die woorde van die Heilige Skrifte ( Joh. 3:18 - 21; 7:17; Mat. 5:33 - 37 en Jak. 5:12 ) wat verklaar dat sulke dinge uit die bose is.
Aangesien die Skrif baie duidelik is ten opsigte hiervan, en aangesien bekering en belydenis van sonde altyd nou moet gebeur ( Jes. 1:18 ), en aangesien die kerkraad daartoe geroep is om toesig oor die gesonde leer te hou deur die gebruike en leer van die Nederduits Gereformeerde Kerk aan die lig van die Skrif te toets ( Joh.3:19-21 ) en aangesien die kerkraad bely dat hy as vergadering, God en Sy Woord glo, die vergadering volgens die voorskrifte van die Kerkorde in die Naam van die HERE die Almagtige God open en afsluit, behoort die Kerkraad hierdie saak sonder uitgerekte en tydvermorsende debatte of toestemming van die Ring, Streek- of algemene Sinode, haastig aan die Woord van God, wat hoër as enige meerdere vergadering of enige ander beslissing of besluit van mense geag word, gehoorsaam te wees, deur dadelik ( Jes.43:26 ) voor God te buig, hierdie ooglopende Woord en Jesus veragtende sonde, te bely en te laat staan.

Aangesien hierdie kerkraad ( sowel as die meerdere vergaderinge van die Nederduits Gereformeerde Kerk ) nie net alleen daartoe geroep is om oor homself en sy eie saligheid toesig te hou nie, maar ook daartoe geroep is om ander na Christus te lei, mede verantwoordelikheid oor die kategetiese onderwys het ( Artikels 9, 16 en 17 van die Kerkorde, 1998 ), wat ook op 'n herderlike roeping en verantwoordelikheid teenoor die gemeente sowel as die wat nog buite die gemeente van God staan neerkom, daartoe verplig is om hierdie sonde, wat deur onkundiges onder leiding van die Nederduits Gereformeerde Kerk begaan is, aan alle mense bekend te maak en hulle tot belydenis en bekering daarvan aan te moedig.

Aangesien hierdie gebruik wat volgens die Here Jesus uit die bose afkomstig is, soos enige ander sonde, skeiding maak tussen God en sondaar ( Ps. 13:2; 30:8 en Jes. 59:2 ) totdat daardie sonde bely, vergewe en laat staan is, en aangesien die mens niks kan aanneem tensy dit hom vanuit die hemel gegee word nie ( Joh. 3:27 ), sal dit waarskynlik nie nou nuttig wees om die katastrofiese gevolge van hierdie sondige gebruik op hierdie stadium te probeer verduidelik tot nadat hierdie sonde bely, laat staan is en vergifnis in die Naam van onse Here Jesus uit die Vader se hand aangeneem is en die skeidsmuur ( Jes. 59:2 - Ou Vertaling ) wat geestelike doofheid veroorsaak, afgebreek is nie.
 
 
 
 

Gerig aan :Almal betrokke, wat belangstel en die Algemene Sinode van welke Gereformeerde kerk ookal hierdie te sien kry.

 

E-Pos : dirk@oppiweb.com

Maandag, 18 September 2000