VOORWAAR, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van ’n ander kant af inklim, hy is ’n dief en ’n rower.

2 Maar hy wat by die deur ingaan, is ’n herder van die skape.

3 Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit.

4 En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken.

5 Hulle sal ’n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie.

6 Hierdie gelykenis het Jesus aan hulle vertel; maar hulle het nie verstaan wat dit was wat Hy tot hulle gespreek het nie.

Die Bybel: Ou Vertaling, (Suid–Afrika: Bybelgenootskap Van Suid–Afrika) 1953.