1 WEES nie haastig met jou mond nie, en laat jou hart nie gou ’n woord uitbring voor die aangesig van God nie; want God is in die hemel, en jy op die aarde. Daarom moet jou woorde min wees.
2 Want soos die droom kom deur baie drukte, so die gepraat van die dwaas deur baie woorde.
3 As jy ’n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe.
4 Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie.
5 Laat jou mond nie toe om op jou liggaam ’n sondeskuld te laai nie, en sê nie voor die gesant van God: Dit was ’n vergissing nie. Waarom moet God toornig word oor jou stem en die werk van jou hande verwoes?
6 Want soos daar baie drome is, so is daar ook nietige woorde in menigte, maar vrees God!
7 As jy verdrukking van die arme en berowing van reg en geregtigheid sien in die land - verwonder jou nie oor die saak nie, want ’n hoër een loer op die hoë, en die hoëres weer op hulle.
Afrikaanse Ou Vertaling