MY seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar,

2 sodat jy jou oor laat luister na wysheid, jou hart neig tot verstand;

3 ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef,

4 as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte

5 dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind

6 (want die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand,

7 en Hy bewaar hulp vir die opregtes, Hy is ’n skild vir die wat regskape wandel

8 deurdat Hy die paaie van die reg bewaak en die weg van sy gunsgenote bewaar);

9 dan sal jy geregtigheid en reg verstaan en regverdigheid - elke goeie pad.

Die Bybel: Ou Vertaling, (Suid–Afrika: Bybelgenootskap Van Suid–Afrika) 1953.