|
Om 'n skakel na hierdie blaai aan vriende te stuur, druk net op die knop hier onder.
|
| Hoofkeuselys | ||||
|---|---|---|---|---|
|
| Geloofsake Keuselys | |||||||||
|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
|
|
| Nuutste Kommentare |
|---|
| Wie's nou Hier |
|---|
| Ons het 5 gaste en 1 gebruiker oppie werf |
| Jou IP adres is as volg : 38.107.191.99 |
|
Besoekers:
|
| Weer innie Laagland |
|---|
|
|
Geloofsake
Wat My aangaan, dit is My Verbond... | Wat My aangaan, dit is My Verbond... |
|
|
|
| Geskryf deur Dirk Muller | |
|
Die belangrikste punt aangaande die verbond van die Here met die
mens is die feit dat Hy die Een is wat die verbond sluit op Sy voorwaardes. Van
die mens wat so vol van homself is dat hy self sy eie god in sy oë is, kan
verwag word dat hy sy verbond aan God sal wil voorle volgens sy eie sin en
begeertes. Dit is ongelukkig net nie moontlik nie. Of ons neem die verbond
van God aan soos Hy dit aan ons voorle, of daar bestaan geen verbond
nie....indien Hy wel besluit om op die mensgemaakte verbond ag te gee, sal
dit sekerlik tot die dood lei! Kom ons gaan kyk na die verbond wat God met Abraham gesluit het. Gen. 17:7 En Ek sal my verbond oprig tussen My en
jou en jou nageslag na jou in hulle geslagte as 'n ewige verbond, om vir jou 'n
God te wees en vir jou nageslag ná jou. Die eerste woorde van God wat die aandag trek is: "Ek sal My
verbond oprig". Daar word geen ruimte gelaat vir ons om die verbond op te
rig nie ! Ook word daar nie ruimte gelaat vir ons om die verbond te wysig
totdat dit ons pas of in ons smaak val nie. Dit is God se verbond en Hy sal dit
ook oprig. Hy is die Een wat met Abraham en sy nageslag in hulle geslagte Sy
verbond oprig as 'n ewige verbond. Die verbond sal vir ewig geldig wees en
nooit verander nie. Dit maak logies sin want God maak nie foute nie en het nie
nodig om later verbeterings aan te bring nie. Sy verbond is ook nie baie moeilik om te verstaan nie en is
eenvoudig as volg: "om vir jou 'n God te wees en vir jou nageslag ná
jou." Die verbond kom daarop neer dat Hy God sal wees en dat Abraham nie
langer self sy eie god sal wees nie. Voor die verbond was Abram se naam "verhoogde Vader" en
na die verbond verander sy naam na Abraham wat "Vader van menigtes"
beteken omdat hy die vader van die gelowiges word. Gen. 17:8 En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou
die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as 'n ewige
besitting; en Ek sal vir hulle 'n God wees. Elkeen met wie God sy verbond oprig, word 'n vreemdeling in
hierdie wereld en is nie meer van hierdie wereld nie maar behoort aan God ( Joh. 17:14 - 16 ) en is slegs bywoners hier op aarde tot
die laaste dag wat Hy dié kom haal wat aan Hom behoort. Die land van vreemdelingskap is die land Kanaän waar die nageslag
van Abraham vir ewig sal woon net soos Abraham ook gedoen het ( Kanaän beteken : "Laagland" ). Abraham het nooit grond afgebaken as sy eiendom nie maar het in
tente gewoon al die dae van sy lewe hier op die aarde in die land van die
nederige, bekend as die Laagland. Daar waar hy nou is, is steeds die "Laagland" want in
die Koninkryk is nie plek vir die hoogmoedige nie ! Die Here kan slegs God wees
vir die inwoners van die "Laagland" anderkant die Jordaan ( Jordaan beteken: "afdaal" of
"neerdaal" ). Soos wat die son in die Ooste opkom en in die Weste ondergaan, so
is die trekroete van Abraham ook vanuit die Ooste, sy geboorteland, deur die
Jordaan na die Laagland aan die anderkant, Wes van die Jordaan. Die Jordaan skei die Ooste van die Weste. Argeologies is daar 'n
"fout" in die aardkors juis daar waar die Jordaan langs loop wat
vanaf die Hermon gebergte in die Noorde regdeur die Rooi see tot diep in Afrika
strek. Die lengte van die Jordaan rivier is, soos die kraai vlieg, kronkels
uitgesluit, maar ongeveer tagtig kilometer terwyl dit met al sy kronkels
ongeveer 320 Kilometer is. Hierdie fout het tot gevolg dat daar 'n diep insinking of vallei
is, naamlik die Jordaan vallei. Waar die rivier in die Noorde ontspring is die
hoogte bo seevlak ongeveer 9 166 voet en onder op die bodem van die Dooie see
waar die rivier se einde le, is dit ongeveer 2 598 voet onder seevlak. Die
Jordaan vallei is op sommige plekke soveel as 12 myl wyd en vorm dus 'n skeur
wat duidelik skeiding maak tussen Oos en Wes. Soos dit onmoontlik is om vanuit die Ooste in die land Kanaän te
kom sonder om deur die Jordaan te trek, so is dit ook vir gelowiges onmoontlik
om vanuit die Ooste ( Wat ons geboorteland, die land van die Eie Ek,
simboliseer ) na die Laagland in die Weste te verhuis sonder om eers van ons
troontjies onttroon te word en af te daal in die Jordaan vallei. Dit is vernederend om die verbond van God op te neem want die Eie
Ek moet dood of gekruisig word voordat Hy my God kan wees. Vir so lank
as wat ek weier om deur die Jordaan te trek en in die Laagland te gaan woon, is
geen verbond tussen my en God moontlik nie. Net in die Laagland sal Abraham se
nageslag woon en dáár alleen sal Hy vir hulle 'n God wees en hulle vir Hom 'n
volk wees.Vanaf verse 10 tot 13 word die besnydenis as teken van die verbond
beskryf en ingestel en vanaf verse 23 tot 27 sien ons dat Abraham op die selfde
dag almal in sy huis besny het, onder andere ook sy seun Ismael wat met
besnydenis en al geen verbond met God gesluit het nie ! God was met die seun Ismael totdat hy opgegroei het en in die
woestyn Paran ( Paran beteken: "hol" of
"grotagtig" ) Suid van die Dooie See gaan woon het nadat sy ma vir
hom 'n vrou uit Egipte gekies het. ( Egipte beteken: "dubbele gevangeskap"
of "dubbele slawerny" ) Die feit dat hy sy ma vir hom laat vrou soek het, is bewys daarvan
dat hy homself nie aan die verbond gesteur het nie want iemand wat aan God
behoort se vrou word deur God aangewys soos met Isak die geval was. ( sien Gen. 24 ) So is Ismael se nageslag vandag nog slawe van hulle dooie
godsdiens. Slawe wat hulle net besig hou met allerhande wassinge, vaste, en
waarneming van die maan ens. waarin God geen behae het nie ! Al hierdie dinge het niks met die verbond te make nie. Allerhande
godsdienstige gebare en vormgodsdiens maak nie dat God vir my 'n God is nie en
verander ook nie my hart se duisternis na lig nie. Klein dingetjies soos om Hom toe te laat om my vrou te kies en te
laat woon in die Laagland van nederigheid sonder vaste besittings in volle vertroue
op Hom, bewys eerder dat Hy vir my 'n God is. Vandag is die geloof van Islam gebasseer op die voorsmake van 'n
onlangse valse profeet en het niks te make met die verbond wat God met Abraham
opgerig het nie. Die feit dat Ismael besny is, en die feit dat hy die nageslag van
Abraham na die vlees is, maak nie dat Ismael by die verbond ingesluit is nie
aangesien hy, toe hy volgroei was, nie by die verbond gehou het om God vir hom
'n God te laat wees nie. Hierdeur is Ismael dus na die Gees nie as die nageslag
van Abraham gereken nie. So is daar ook vandag baie wat glo dat hulle
"verbondskinders" is net omdat hulle in 'n sekere kerk gebore en
gedoop is, maar wat self hulle eie sake reël en self op hulle eie "gesonde
verstand" vertrou eerder as op God ! Die besnydenis of doop is slegs tekens van die
verbond maar is nie die verbond nie en het in
sigself geen krag tot redding en heiligmaking nie.
Die feit dat ek as kind deur my ouers gedoop is of dat ek self
myself laat doop het as volwassene, beteken nie dat ek nou in 'n verbond met
God staan nie. Die feit dat ek in 'n "Christen huis" groot geword
het, beteken nie dat ek outomaties in 'n verbond met God staan waarvan ek nie
eers kennis geneem het nie ! Vermetele mense gaan selfs voort deur self hulle eie verbond na
hulle eie smaak saam te stel en dit dan in die vorm van geloftes aan God voor
te le. Hulle mag dalk verbondskinders na die vlees wees in hulle eie oë, deur
die teken van die besnydenis of die teken van die doop en die aflegging van
hulle self saamgestelde geloftes en verbonde, maar na die Gees en in die oog
van die Almagtige, nie as die nageslag van Abraham gereken word nie. Omdat hulle, sonder om dit te besef, self god is in hulle eie lewe
deur die woorde van hul geloftes, kruisig hulle die enige God ten opsigte van
hulself in hul dwaasheid terwyl hulle glo dat hulle wys is ! Jes. 55:9 Want soos die hemel hoër is as die aarde,
so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes. Wie het dan die gedagtes van die Here geken dat hy aan Hom die
woorde van Sy verbond sou voorskryf of aan Hom sou verduidelik wat dit op
aankom ? Jes. 59:21 Wat My aangaan, dit is my verbond met
hulle, se die HERE: My Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gele
het, sal uit jou mond nie wyk nie, en ook nie uit die mond van jou kroos en uit
die mond van die kroos van jou kroos, se die HERE, van nou af tot in ewigheid
nie. Gebed: Here, ek herroep elke verbond wat ek met my eie woorde aan U
voorgehou het, elke belofte wat ek ooit aan U gemaak het en bely en erken dat
ek in dwaasheid gespreek het sonder om te verstaan dat ek daardeur my eie
geregtigheid voor U wou oprig en vir myself 'n god wou wees. Here, kom rig U, U verbond met my op sodat U vir my God sal wees
en dat ek vir U 'n kind kan wees. Laat my verbond met U, my geloof en my
geregtigheid en die woorde van my mond, tot in alle ewigheid, alles
vanuit U, die Allerhoogste wees. Amen ! . |
| < Vorige | Volgende > |
|---|