|
Om 'n skakel na hierdie blaai aan vriende te stuur, druk net op die knop hier onder.
|
| Hoofkeuselys | ||||
|---|---|---|---|---|
|
| Geloofsake Keuselys | |||||||||
|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
|
|
| Nuutste Kommentare |
|---|
| Wie's nou Hier |
|---|
| Ons het 9 gaste en 1 gebruiker oppie werf |
| Jou IP adres is as volg : 38.107.191.95 |
|
Besoekers:
|
| Weer innie Laagland |
|---|
|
|
Lam van God ! | Dáár is die Lam van God ! |
|
|
|
| Geskryf deur Dirk Muller | |
|
Volgens Joodse gebruik, word seuns op
dertienjarige ouderdom deur hul vader "aangeneem" waarna die seun dan
as handelsbevoeg beskou word. Die pa nooi sy sakevriende oor om sy seun aan
hulle voor te stel en dit aan hulle bekend te maak dat hierdie seun voortaan
namens hom mag sake doen.
Die seun sal nie sommer sy eie kop volg
nie, maar sal in die voetspore van die pa volg en sake doen volgens die
beginsels wat die pa self sou handhaaf. Die seun sou dan ook 'n ring ontvang
wat die seël van die pa daarop het sodat al die sake wat die seun namens sy pa
behartig dan vir die rekening van sy pa sou wees. (L.W.Hierdie ring is daar om
te werk en nie om mooi te lyk nie.)
Die seël op die ring is gelyk aan dié van
die pa en dra een en die selfde gesag as dié van die pa aangesien die pa vir
die seun borg staan.
Sou die seun homself aan die een of ander
vorm van ongehoorsaamheid skulig maak, soos wat die verlore seun gedoen het
deur na 'n vreemde land te gaan waar sy pa nie sake doen nie, het die ring vir
die seun geen waarde nie en hy sal dit waarskynlik verkwansel of op 'n dronk
party tussen die hoere en die rowers verloor.
Aangesien die HERE God die mens na Sy
gelykenis gemaak het, sou die mens soos God regeer, maar saam met God regeer en
dit doen op die wyse waarop God dit doen. Soos wat kinders hul ouers navolg in
manier van praat, loop, staan, dink ens. so sou die kinders van God ook hulle
hemelse Vader navolg. ( Efe. 5: 1 )
Nou, omdat God self alles geskape het en
in stand hou deur die Woord van Sy krag, en omdat God die aarde onder die gesag
of heerskappy van die mens geplaas het, wat Hy na Sy gelykenis geskape het, ( Adam die Seun van
God - Lukas 3:38 ) het Adam, net soos sy Vader, die woorde van
sy mond gebruik ten einde op die aarde te regeer. God is Gees en Sy Woorde is
geldig in die hemele en Adam is vlees en op die aarde is sy woorde geldig. Om
hierdie rede, verduidelik Jesaja sowel as Paulus, ( Jes. 9:5 - 6 en Efe. 1:7 -10 en
Fil. 2:9-10 ) het Jesus 'n Naam bo alle name want Hy het as mens
ook heerskappy op aarde maar omdat Hy ook God is, ook heerskappy in die hemele
! Wonderbaar !
Dit is dan dié kennis waarvan Adam deur
die satan berowe is. Die woorde van die ewige lewe wat God in sy mond gele het,
was daar nie meer nie, slegs die woorde van die ewige dood. Daarom dat God vir
Adam gese het dat die aarde om sy ( Adam ) ontwil vervloek is ( Gen. 3:17 ).
God is 'n God van die ewige lewe en Hy
seën, en vervloek nie, maar deur Sy kennis het Hy dit aan Adam oorgedra omdat
Hy die eindresultaat van Adam se onvermoë weens die vyandskap teen Hom geken
het.
Dit is die woord van die geloof ( Rom. 10:8
) wat die krag dra en geloof het met kennis ( Kol. 3:10 ) te make. As ons dus net ken wat
sleg is, geen mens ken van sy geboorte af enige iets anders behalwe dit wat
sleg is nie ( voortaan sal die woord "sleg" met "dood"
vervang word aangesien dit geestelik die korrekte woord is ) omdat ons hele
voorgeslag almal net weet van die dinge van die dood ( Rom. 3:23 ). Daarom
sal die dinge wat ons glo ook die dood bevat en die woorde van die geloof wat
in ons harte is sal dus woorde van die dood wees en die dood voortbring of ons
dit nou weet, wil glo of erken, of nie, so is dit ! ( Mat 12:33 - 37 saam gelees met Joh.
6:68 en Jes. 59:21.)
Om hierdie rede word die uitdrukking
"wedergeboorte" gebruik om bekering tot God te beskryf aangesien
sulke mense se woorde vervang is met nuwe woorde wat natuurlik maak dat so 'n
mens 'n nuwe taal praat of nuwe lied sing ( Ps. 40:4 en Markus 16:17 en Open. 14:3 )
waarvan die woorde nie geleer kan word nie omdat dit alles uit Sy
Hoogste ontvang word.
God het dan deur die woorde van mense
gewerk sonder dat daardie mense waarlik besef het wat die uitwerking van hulle
woorde sou wees soos bv. Abraham toe hy vir sy seun Isak gese het dat God vir
Homself 'n offerlam sal voorsien ( Gen. 22:8 ). Abraham het natuurlik ook
daardie woorde wat hy gese het, geglo sonder om te weet dat sy woorde op die
Christus betrekking het !
Eers het Hy met Abram 'n verbond gesluit,
naamlik om vir Abram en sy nageslag 'n God te wees, sy naam verander na Abraham
toe en die besnydenis ingestel ( Gen. 17: 1-22 ) en aan Abraham 'n seun belowe.
Toe hierdie seun Isak dan gebore is het God weer aan Abraham verskyn en hom
beveel om hierdie seun te gaan offer ( Gen. 22:1 - 14 ) met die doel om Abraham op
die punt te kry wat hy met die woorde van sy mond die Christus, die Lam van God
sou wettig en aankondig ! ( vers 8 ) Weens die geregtigheid het God
hierdie "toestemming," in die vorm van woorde, van hom wat op die
aarde die heerskappy besit nodig voordat Hy self Sy offerlam mag stuur. Die
feit dat Abraham opreg in sy hart besluit het om sy seun te
offer, was die seël op die kontrak. Volgens reëls van die geregtigheid het
Abraham sy seun geoffer ( Heb.11:17 ) en daarom het
Hy die Seun van die mens geoffer sodat ons kan lewe.
Die profete van God is nie altyd bewus van
hul profeetskap nie ! ( Ook maar goed so aangesien dit hoogmoed voorkom en die
profeet van sonde bewaar ! )
Om al die woorde van die profete en ander
manne van God deur die skrifte heen op te spoor wat die handel en wandel van
die Lam van God aankondig, is genoeg om boeke oor vol te skryf !
Die punt wat ek wil maak is dat Jesus
geheel en al volgens alle geregtigheid deur die gesagdraers van die aarde se
woorde aangekondig is. Die doel van hierdie boek is net om die leser te prikkel
sodat hy self in sy tyd met God hierdie dinge naspeur en self die vreugde van
'n brandende hart wat van Hom hoor, kan ervaar.
Die profeet Jesja ( Jesaja beteken : God het gered
) beskryf die hele kruisiging ( Jes. 53 ) en sy woorde is almal in die
verledetyd geskryf alhoewel dit sowat 712 jaar voor Christus reeds geskrywe is
! Ek wil hier net enkele dinge uit Jes. 53 aanroer wat inpas by dit wat reeds
in hierdie hoofstuk tot nou toe gese is.
Jesaja
53:11-12
11 Weens die moeitevolle lyde van sy siel
sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige,
baie regverdig maak; en Hy sal hulle skuld dra.
12 Daarom sal Ek Hom 'n deel gee onder die
grotes, en met magtiges sal Hy buit verdeel; omdat Hy sy siel uitgestort het in
die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie
gedra en vir die oortreders gebid het.
Die Kruis van Christus gaan oor die kennis
en die goddelike uitoeffening van die geregtigheid. Deur Sy kennis sal Hy baie
regverdig maak. Die pyniging van die vlees was nie die volle straf of prys wat
Hy vir ons sondes moes betaal nie. Ons mensies wat in hierdie vlees lewe en wat
pyn begryp is geneig om Sy lyding na vlees as die offer vir ons sonde te sien
terwyl dit met die geregtigheid te make het.
Voordat ek God ontmoet en persoonlik geken
het, het die prediking oor die kruis my die indruk gegee dat God onregverdig is
aangesien Hy, volgens die prediking wat ek gehoor het, 'n Onskuldige
sondelose in my plek straf vir my sonde !
Ook kon ek, a.g.v. die manier wat ek die
prediking verstaan het, nie verstaan hoe Jesus net drie dae in die hel kon
deurbring om die hele straf te dra vir ander wat tot in alle ewigheid in die
hel sal wees nie.
Te veel botsende stellings het my
afgestoot van hierdie evangelie met hierdie snaakse god wie se geregtigheid my
nie regtig beindruk het nie. Onthou, ek was nie wedergebore gebore nie, maar
was in sonde ontvang en gebore al was my ouers in 'n "Christen kerk"
en ek as kind daar gedoop. Omdat my oog so skeef gesien het en my oor so skeef
gehoor het, was dit my dwase sondige sienning van die saak ! Ek verwyt nie die
predikante nie !
Om ongeregtigheid voor Sy deur te le is
laster ! Ons mensies gaan skop die hond omdat ons vir die vrou kwaad is, maar
dank Hom wat die Almagtige is, dat Hy nie soos ons is nie.
Hierdie dinge het dan te groot en te
ondeurgrondelik diep vir my verstand gebly totdat ek die Here gebid het om my
hierdie dinge oop te maak en Hy my van die antwoorde in Jesaja
53 laat vind het.
Jes.
53:4
"maar óns het Hom gehou vir een wat
geplaag, deur God geslaan en verdruk was."
Ons is skulig, nie God nie maar ons
het, omdat ons oog so skeef is, Hom gehou vir een wat deur God
geplaag is. Ons dink mos dat almal wat mooi van aansien is en
volop geld het, deur God aangesien word, omdat ons dink dat ons
soos God is en dat Hy soos ons is, dink ons
so. Ek dank Hom dat Hy radikaal anders, anders, anders is.
2
Kor. 5:21
Want Hy het Hom wat geen sonde geken het
nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.
Die skrifgedeelte hierbo het die satan met
groot welslae in die oog van die mens verdraai. Saamgelees met Jes. 53:4 is dit
maklik om agter die ware betekenis daarvan te kom. Dit word algemeen aanvaar en
vertolk dat God ons sonde aan Jesus toegereken het !
Dit is onder geen omstandighede wat die
skrif se nie. Daar is tog nie onreg by God nie. Omdat Hy so regverdig is, het ons
Hom aangesien as sonde omdat ons oog so skeef is.
Die griekse woord ( hamartia ) vir sonde
wat gebruik word se betekenis is : "om die doel te mis/om af te dwaal van
God se wet." Die selfde skrif verklaar ook dat Hy geen sonde geken het nie
- dan is dit tog duidelik dat God nie Hom die onreg aandoen deur Hom die skuld
te gee en Hom as sondig aan te sien in plaas van ons nie.
Is daar onreg by God ? ( Indien die
vertalers van die Bybel minder van hulle eie woorde bygevoeg het om dinge
makliker verstaanbaar te maak, dink maar net ek, sou daar 'n menigte minder
misverstande gewees het.)
Laat ons dit nou maar erken, ons
het Hom gekruisig, nie God nie ! Ons het Hom nie geag nie en ons
het Hom vir sonde, ja, selfs as duiwelbesete en kranksinnig
aangesien ( Joh. 10: 17 - 20 en 33 ) en as lasteraar omdat Hy
die waarheid gepraat het. As Hy Hom nie sonde vir ons, in ons oë, volgens ons
sienning, gemaak het nie sou ons Hom nie kruisig nie. Die skrifgeleerdes het
Hom as sondig beskou en daarom het hulle hom laat kruisig. Hulle het gedink dat
hulle aan God eer bewys die dag toe hulle Jesus laat kruisig het.
Daar is geen onreg by God nie, dit is ons
wat God in die gees kruisig en Jesus in Sy vlees gekruisig het en ons
ongeregtighede op Hom wat geen sonde geken het nie, uitgehaal het, nie God nie.
Alle onreg is ons skuldig aan. Hy het Hom ( Joh. 19:11- 16 )
in ons hand oorgegee en so ons ongeregtighede
op Hom laat neerkom ( 1 Pet. 2:24 ) sodat Hy wat Jesus is eintlik
die sonde wat ons teen die Vader pleeg in die gees afweer deur dit in Sy eie
liggaam te absorbeer. So kom ons vyandskap teen God op die Lam neer en dra Hy
ons sonde sodat elkeen wat dit kan insien en glo, se sonde teen die Vader hom
nie langer toegereken word nie. O, hoe ondeurgrondelik en onnaspeurlik Sy weë
in die geregtigheid; aan Hom kom toe al die eer en die lof en die aanbidding
tot in alle ewigheid.
Jes. 53:5
Maar Hy is ter wille van ons oortredinge
deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir
ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur Sy wonde het daar vir ons genesing
gekom.
Ons gaan dieper inloer na die betekenis
van die Hebreeuse woord "musar" wat in ons Bybel as
"straf" vertaal word. Ons het hier met 'n woord te make wat eintlik
net een betekenis het wat op verskillende maniere uitdrukking gee maar weens
die skeefheid van die menslike oog, en sy begeerte om te glo dat hy soos God is
en dat God soos hy is, is die verkeerde keuse gemaak toe daar met die vertaling
van hierdie skrifgedeelte na die konteks daarvan gekyk is. Hy het Hom beslis
nie gestraf in die plek van die sondige wereld nie. God doen geen
onreg deur die Onskuldige in die plek van die skuldige te straf nie.
Die selfde woord kom ook in Deuteronómium
11: 2 voor en word hier as "onderwysing" vertaal. Dit
is nader aan die ware betekenis van die woord wat dui op onderwysing in die
vorm van "streng dissipline". Die woord kom ook voor in Job 34: 31
( Sien ook Job
34:10 - 12 terwyl u daar is ! ) en Jeremia 30: 14 -
slegs vier keer in die hele Bybel. Saamgelees met hierdie versies en met
Hebreërs 5: 8 en 12: 2 en 8 - 11
is dit duidelik wat God deur Sy profeet Jasaja ( 53:5 ) wou se. Dit kom daarop
neer dat die streng dissiplinere onderwysing wat ook vir ons, as ons gehoorsaam
is, die vrede aanbring, op Hom was sodat Hy as die Eerste, al was Hy die Seun,
daardeur is en ons Hom as Leidsman en voleinder van ons geloof kan volg.
Bepeins hierdie dinge eers baie, baie goed totdat dit u deel word voordat u
verder gaan asseblief.
Jes. 53:10
Maar dit het die HERE behaag om Hom te
verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel 'n skuldoffer aangebied het, sal
Hy 'n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die HERE sal
deur sy hand voorspoedig wees.
Omdat alles, behalwe om te sondig, vir God
moontlik is, was daar vir die Seun 'n ander uitweg, anders sou Hy nie daarvoor
bid nie, ( Luk.
22:42 ) as die dood van die kruis, wat die dood vir
die sonde is (
Rom. 6:10 - Hy deur ons toedoen verbrysel ).
Dit het die Vader behaag dat Hy gekruisig
moes word, sodat die boodskap van die sonde wat in ons mense is en wat ons God
aandoen, onweerlegbaar deur demonstrasie bewys en vertel kan word en Hy Sy
siel, wat in Sy bloed is, as skuldoffer kon aanbied ( Lev.17:11; Efe.1:7; Kol.1:14 en
Heb.10:10 ) deurdat Hy daardeur die volle wet vervul sodat ons
sonde vergewe kan word.
Deur Sy kennis het Hy baie regverdig
gemaak ook omdat Hy vir hulle gebid ( woorde ) het, hier op die aarde as mens
in menslike liggaam ( Luk. 23:34 en Joh. 17 :13 ).
Dit gaan daaroor dat God die gebed van die
Regverdige, wat geen sonde het nie, verhoor. Daar was niemand anders op aarde
wat regverdig (
Rom. 3: 9 - 14 ) was om hierdie woorde te bid nie want almal het
net die woorde van die dood geken.
God moes dus Self as Verlosser kom en die
boodskap van God kom aflewer in Sy menslike liggaam aan die Kruis.
Daar moes, op 'n manier wat nie verkeerd
verstaan kan word nie, verduidelik word wat die mens God aandoen deur Hom nie
as hulle God aan te neem nie.
Deur Sy kennis het Hy in die selfde tyd,
terwyl Hy hierdie boodskap aflewer, daardie sonde van die mens aan God, op
Homself geneem (
1 Pet. 2:24 ) in Sy liggaam, en só hul sonde gedra ! Deurdat Hy
hulle sonde gedra het, kon Hy nou wettiglik vir hulle versoenning doen deur die
regte woorde in menslike liggaam te bid. Hy kon nou se : "Vader, alles wat
hulle U aandoen, het hulle nou aan My gedoen sodat hulle dit nie meer aan U
doen nie maar aan My, so Ek dra nou daardie sonde van hulle en Ek vra U om
hulle dit te vergewe want hulle weet nie wat hulle doen nie " ( Hierdie
aanhaling is nou my eie woorde in my poging om die beginsel van die saak te
probeer verduidelik )
Deur Sy kennis het Hy Sy siel in die dood
uitgestort. Daar is geskrywe dat die siel in die bloed is ( Lev. 17:11
en 14 ) en met die bloed verbind is.
Hierdie wereld is die dood ( Joh.18: 36 )
omdat die dood hier regeer. Die sonde is die dood. Daar is 'n verskil tussen
sterwe en die dood. Die liggaam sterwe maar die sonde is die dood. Hulle wat
die ewige lewe het, lewe dus ( Joh.11: 25 ), al het hulle ook gesterwe
want om die ewige lewe te besit is om die kennis van die ewige lewe te he en
dit is alles uit Sy Hoogste.
Die Jode het gesukkel om hierdie dinge te
begryp en het gedink dat Jesus van die duiwel besete (
Joh. 8: 52 - 53 ) was net omdat hulle nie kon verstaan wat Hy se
nie.
So aangesien Sy bloed vegiet is hier op
die aarde, waar die dood is, omdat die dood hier op aarde heers, het Hy Sy siel
in die dood uitgestort. Dit was die een manier van Sy siel in die dood
uitstort. Die ander manier is deur die offer van Sy wil deur dit aan die wil
van die Vader (
Luk. 22:42 en Heb. 10: 10 - 18 ) te
onderwerp. Wanneer mens afsien van jou eie wil om dit aan die wil van andere te
onderwerp, maak jy mos daardeur jou eie wil dood. Met ander woorde, die SELF
sterwe in die proses.
Dit het Hy alles gedoen ten einde die volle
geregtigheid te vervul. Iets wat ons mensies nie kan doen nie, al dink ons dat
ons kan (
Luk. 22: 31 - 34 ).
Die siel is die lewe en die wil. Tensy ons
ons lewe en wil in die dood kan uitstort, kan ons nie in ons self sterwe nie en
volg dus nie die wet van die ewige lewe nie maar die wet van die sonde ( Rom. 8: 2 )
en die dood . Dit is presies waar die angel van die dood ( die sonde ) le; by
die eie verstand, die eie wil wat vir Eva so begeerlik gelyk het ( Gen. 3:6
).
Deur Sy kennis het Hy Sy siel in die dood
laat uitstort sodat Hy in alle opsigte die geregtigheid vervul en dat dié wat
in Hom glo, die ewige lewe kan he. ( Heb. 10: 10 - 18 )
Hy het gesterwe na die vlees en is uit daardie dood opgewek alhoewel Hy nie in
die dood van die sonde was nie maar die dood wat Hy na die vlees gesterf het,
het Hy vir die sonde gesterf ( Hand. 2:27,28 en 31; Rom. 6:10 - 11
en 1 Pet. 3:18 - 19 ). Dit was tog immers deur die sonde van die
mens dat Hy liggaamlik, nie in die Gees nie, gesterf het - ons
het Hom vermoor.
Hy het self geen sonde ooit gehad nie nie.
Die dood van die sonde is die ewige dood en word die tweede dood ( Open. 2: 11; 20:6 en 14;
21:8
) genoem. Aan hierdie dood is daar geen einde nie en die vuur ( Ese
28:18 ) daarvan kan nie geblus word nie omdat die sonde self ( Mark. 9:
44 - 48 ) soos 'n wurm, daardie ewige verterende vuur is.
Hy was nie naby hierdie dood nie aangesien
Hy hierdie dood oorwin het deur daar uit te bly en geen
aandeel daaraan te he nie. Selfs tot die dood van die kruis het Hy nie
gesondig nie - nie eers met die gedagte nie ! Dit is deur die weerstaan van die
sonde wat Hy na die vlees gesterf het. Hy was daaraan onderwerp om ten bloede
toe weerstand teen die sonde te bied ( Heb. 12:4 ). Iets wat ons, dank die Here
Jesus, waarskynlik nie nodig het om deur te gaan nie.
Indien Hy Sy saak sou verdedig voor
Pilatus of die skrifgeleerdes of op enige manier Sy "Self" sou
verdedig, sou Hy homself los praat deur Sy kennis en wysheid, maar dan sou hy
wel lewend wees vir die sonde deur die wet van die sonde en die dood te
gehoorsaam. Hy was tot die dood van die kruis gehoorsaam aan Sy Vader wat ( die
wet van ) die ewige lewe is en so het Hy die dood wat Hy gesterwe het, nie
gesterwe weens die sonde wat in Hom is nie maar weens die feit dat Hy
"dood is vir die sonde" en as gevolg van die sonde wat in ons
mensies teenwoordig is.
Die dood wat Hy gesterwe het, het Hy
gesterwe omdat Hy dood was vir die sonde deur nie te sondig
nie en nie omdat Hy dood was weens sonde in hom nie nie ! ( Rom. 6:3 - 10 )
Salig en heilig is hulle wat deel het aan
die die wedergeboorte, die eerste opstanding ( Joh.5:21; Efe.2:1 )
want oor hulle het die tweede dood ( Open. 20:2 en Gal. 6:14 ) geen mag nie. Hy
sal kom in die laaste dag ( Joh. 5: 24,28,29; 6: 39, 40, 44,
54; Rom.8:1 ) om hulle te kom haal ( 1 Thess. 4:16,17 )
uit hierdie wereld waar die dood regeer en hulle sal saam met Hom gaan sit om
dit ( Luk.
22: 30 ) te oordeel.
So het Hy dan deur Sy kennis van die
geregtigheid, die satan uitgeklee en die dood namens ons en vir ons oorwin
sodat ons deur Sy oorwinning en vervulling van die wet, kan lewe.
Nou verstaan ek die Kruis van Christus en
die boodskap van alles wat daar in Jerusalem gebeur het op daardie dag
heeltemal anders ! Nou verstaan ek dat God nie onregverdig is om iemand anders
vir my sonde te straf nie, maar ek sien nou maar net 'n gedeelte van Sy
ondeurgrondelikke weë in geregtigheid. Ja, waarlik, Hy oordeel en voer oorlog
in geregtigheid ! ( Openbaring 19:11 )
Ek kan nou die liefde van God daarin sien
dat Hy tot al hierdie uiterstes gegaan het om met my te praat en te verduidelik
wat ek Hom aandoen deur Hom nie toe te laat om my God te wees nie !
Ook sien ek nou eers 'n bietjie van Sy
ewige Goddelikheid en ondeurgrondelike wysheid en geregtigheid in die kruisdood
van God ons Verlosser !
Sy karakter en geregtigheid word ten volle
verklaar deur alles wat gebeur het daardie dag in Jerusalem, al verstaan ek
maar net ten dele. Die gesindheid, blindheid en dwaasheid en verwaandheid van
die mensdom met sy godsdienstigheid en al, wat daagliks steeds gebeur in mense
se harte, die nuwe Jerusalem, word verklaar deur alles wat in Jerusalem gebeur
het op daardie dag, sowat twee duisend jaar gelede !
Sien u waar die Lam van God en die Woord
van God en die Gees van God ten opsigte van uself is op hierdie oomblik ?
Indien u Hom nog nie ontmoet het nie, en
Hy u nog nie nuut gemaak het nie, en u Hom maar net probeer gelukkig maak deur
gereeld kerk toe te gaan, dan moet ek vir u se : Dáár is die Lam van God wat
die sonde van die wereld wegneem steeds aan die kruis ten opsigte van u lewe !
Hy sal Homself nie verlos in u lewe nie tensy u hierdie saak met Hom uitpraat
en deur die woorde van u mond aan Hom verklaar dat u teen Hom gesondig het deur
die lot te werp oor Sy gewaad terwyl u Hom aan die kruis laat hang om te sterwe
ten opsigte van u lewe nie.
Dáár is die Lam van God wat die sonde van
die wereld wegneem en vir hulle wat Hom nie aangeneem het nie hang Hy aan die
kruis by die plek wat Hoofskedel ( die mens se verstand is mos in sy
hoofskedel-
Jeremia 17:5 en 18:12 ) genoem word . Gaan uit na Hom toe en
ruil met Hom plek !
Vandag as u Sy stem hoor, vehard nie u
hart nie en laat die gesonde verstand in u hoofskedel nie die besluite neem
nie, maar verander die gebeure in u Jerusalem, die hart, deur Hom te laat
intrek in die tempel van u hart terwyl u die plek aan die kruis gaan vul
buitekant die stad op die plek wat Hoofskedel genoem word. Dáár is die plek van
óf die Christus óf die sondaar se kruis !
Hy het die Naam bo alle name omdat God die
Vader in Sy Naam alle heerskappy in die hemele sowel as op die aarde onder Een
Hoof verenig het. Elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Hy die Here (
eienaar ) is want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge omdat nie een
ding wat ontstaan het sonder Hom ontstaan het nie. ( Efe. 1:10 en Joh 1: 1 - 3 )
Dáár is die Lam van God en Hy voer oorlog
in geregtigeheid en Hy het 'n Naam wat geskrywe is wat bo alle name is en wat niemand
ken nie ( te Wonderbaar vir menslike begrip ! ) behalwe Hy self en daardie Naam
is: Die Woord van God ! ( Open.19:11 - 13 )
Hy wat die Woord van God betwyfel,
betwyfel ook God en sonder om God te glo is dit onmoontlik om God te behaag.
Die Woord of Lam van God is die enigste Weg tot die Waarheid en die ewige lewe.
Dáár is die Lam van God, Hy is die Weg en
die Waarheid en die lewe, die Ewige Vader en Sy Naam is Wonderbaar, God met
ons, wie in Hom glo sal in ewigheid lewe al het hy ook gesterwe. ( Jes. 9:5, Joh.
11:25 - 26 en 14:6 - 9 )
Nog baie ander dinge het die Lam van God
gedoen tydens Sy besoek aan Sy eiendom ( Joh. 1:11 en 21:25 )
maar as die volle betekenis van elke tree wat Hy geloop het en van elke woord
wat Hy gespreek het en van elke daad wat Hy gedoen het en van elke daad wat Hom
aangedoen is en van elke woord wat teen Hom gespreek is, ten volle beskryf moet
word, dink ek, sal die wereld self al die boeke nie kan bevat nie ! Hieraan word die Bybel weereens openbaar as die ware Woord van God aangesien al die kennis daarin saamgevat so oorweldigend groot is, dat indien dit menslik moontlik was, om dit alles te ontrafel en in ander boeke te verduidelik en uiteen te sit, al die boeke in die wereld sowel as die spasie op aarde nie genoeg sal wees nie.
Ons enigste hoop om enige iets te verstaan of te
wete te kom van wat alles in die Bybel staan, is alles uit Sy Hoogste,
die troon van God en van die Lam, die Naam bo alle name ! Hy is so naby as die
begeerte van u hart - open u mond en laat u begeerte na Hom en Sy Woorde deur
smeking en danksegging aan Hom bekend word sodat u kan ontvang - alles
is uit Sy Hoogste, vry, gratis en verniet ! Amen. |
| < Vorige | Volgende > |
|---|